Graad na beroerte


Danél Esterhuysen -

Deursettingsvermoë, ‘n positiewe ingesteldheid en ‘n onontbeerlike onder-steuningsraamwerk kan wonderwerke verrig.

Daarvan is Anneliese Pretorius ‘n bewys nadat sy verlede jaar op 21 ‘n ernstige beroerte in haar koshuiskamer gehad en Donderdag steeds haar B.Com-graad in risikobestuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom Kampus verwerf het.

Sy is tans besig met ‘n honneursgraad in risikobestuur, asook ‘n tweede CIMA-graad in bestuursrekeningkunde.

"Ek dink enige student is bly wanneer hulle graad vang, maar onder omstandighede was dit net soveel meer spesiaal. Ek was verlede jaar so bang ek gaan nie saam my vriende graad vang nie. Die terapeute en dokters was baie skepties oor my eksamen so kort na my beroerte en het my sterk aanbeveel om dit eers die jaar te skryf. Om hulle almal verkeerd te bewys is ekstra lekker," sê Pretorius. 

Sy vertel hoe sy op 15 Oktober hoofpyn gekry het. "Ek was heeltemal lam toe ek wou opstaan en het ‘n vriendin gebel wat my onmiddellik hospitaal toe gevat het waar die dokters later bevestig het dat ek ‘n beroerte gehad het." Pretorius het toe met hiperbariese suurstofbehandeling begin en is na sowat sestien dae in die Pretoria-Oos Hospitaal na Muelmed vir intensiewe rehabilitasie oorgeplaas nadat sy die motoriese beheer in haar linkerhand, arm, been en voet verloor het.

"Om weer te leer loop en jou hand en arms te oefen tot jy weer die gebruik daarvan herwin, is baie frustrerend. Die herstelproses was lank en dit beproef baie dinge - jou geloof, selfbeeld en toekomsplanne, maar dit leer jou ook geduld en deursettingsvermoë en dit wys jou watter mense regtig daar is vir jou. Ek het nie toegelaat dat so iets my wegkeer van my droom af om my twee grade te verwerf nie en dit het my deurentyd motiveer.

Die belangrike mense in haar lewe, veral haar ouers, Thomas en Anneliese, haar ouer suster, Amelie en haar man, Johan en haar vriend, Richard Prinsloo het volgens Pretorius ‘n baie groot rol op haar herstelpad gespeel deur haar emosioneel te ondersteun en aanhoudend te motiveer.

Sy vertel ook hoe die universiteit uit hul pad gegaan en spesiale aanpassings gemaak het om haar te akkommodeer deur ‘n spesiale eksamen vroeg in Januarie vir haar te reël. "Ek kon toe my eksamen wat ek November gemis het, aflê en het alles darem bo 70% geslaag. Met nog verdere vergunning is ek toegelaat om dié jaar saam met my vriende graad te vang," sê Pretorius.

Die internis, dr Pieter Kritzinger het Januarie weer toetse gedoen en bevestig dat haar breingolwe genormaliseer het. Hy het gesê dat hy ongelooflik beïndruk met haar vordering is. Sy gebruik steeds daagliks bloedverdunningsmedikasie en ontvang nog drie maal ‘n week terapie van ‘n biokinetikus by ‘n gimnasium in Potchefstroom. Sy is steeds ‘n trotse inwoner van Vergeet-My-Nie Dameskoshuis met ‘n blink toekoms wat vir haar wink. "Ek wil nou net eers fokus op die jaar se studies en hopelik volgende jaar in Pretoria of Johannesburg gaan werk."

Pretorius en haar gesin het weer hul dank uitspreek vir die ondersteuning, selfs van vreemdes, wat hulle familie sedert die traumatiese tyd ontvang het.